'n LAASTE UITWEG...as alles skeefloop!

As kind het ek in ‘n redelik onstabiele omgewing grootgeword. My pa het 2 keer probeer selfmoord pleeg en my ouers is op n vroeë ouderdom geskei. Die skeisaak is ongeveer die middel van die jaar afgehandel waarna my ma verhuis het na n ander dorp, en ek en my suster in die toesig geplaas is van vriende tot en met die einde van die betrokke skooljaar. n Derde party het in ‘n stadium n ‘vloek’ oor my pa en sy gesin uitgespreek en ek kan onthou dat ek en hy in n stadium n ‘gesiene’ toordokter gaan spreek het. Ek het gereeld drome gehad waarna ek wakker skrik en n bose figuur, beskryf as ‘n bobbejaan, sien. Hierdie ‘drome’ het in my volwasse lewe voortgeduur en ek moes by vele geleenthede ‘veg’teen n bose figuur wat my probeer versmoor en verwurg. My een oom was betrokke in die wereld van ‘spiritisme’ en ons as gesin het ook n paar sessies bygewoon, waar daar gepoog is om met die ‘dooies’ kontak te maak. Buiten voornoemde het ons as gesin gereeld verhuis en was ek in 6 verskillende skole, daar was n tydperk van 2jr waarin ek in 3 verskillende skole was, asook n tydperk van 4jr waarin ek in 4 verskillende skole was, 1 hiervan het n jaar in die koshuis behels. Ten spyte hiervan het ek bogemiddeld op sportgebied presteer en het ek geleer om op my eie kragte staat te maak. Ek wil ook net spesifiek noem dat ek in die christelike geloof opgevoed is, ten spyte van ooglopend on-christelike dinge wat gebeur het. Dinge wat verseker n houvas en ‘n invloed op my lewe gehad het. Vroeg in my volwasse lewe het ek totaal en al in wêreldse dinge verval, en ook begin om die Christelike geloof openlik te bevraagteken. Daar was geen rede vir my om na ‘n opperwese uit te roep of geestelik te probeer groei nie, aangesien alles redelik voorspoedig verloop het. Ek het slegs geglo dat dit nodig is om volgens goeie beginsels te leef. Beginsels wat ek gemeet het aan wêreldse en humanistiese standaarde. My lewe het later net bestaan uit drank, partytjies, klubs, kroeë en braai. Wanneer ek drank gebruik het was dit net vir my makliker om te sosialiseer en het my persoonlikheid spontaan na vore gekom. Ek kon vloek soos ‘n matroos en dit was deel van my algemene spreektaal. Soos meeste mans het ek later ook verval in internet pornografie en die besoek van ontkleeklubs. Dit het n verslawing geword. Na n loopbaan van 18 jr by die Stadsraad van Pretoria het ek n vrywillige skeidingspakket aanvaar, en het ek ‘n paar jaar later betrokke geraak in ‘n drankwinkel op n 50/50 vennootskapbasis, met ‘n vriend van my. Al my ‘pensioengeld’ is vir hierdie doel aangewend. My lewe van kuier en drank het net voortgeduur. Salig onbewus van wat alles voorle en uiters ingenome met myself het ek met entoesiasme uitgesien na ‘n nuwe tydvak in my lewe. My eie besigheid. Gou sou ek egter besef dat in n 50/50 vennootskap jou lewe namens jou bestuur kan word. Ek moes vrede maak met geld en voorraad wat verdwyn en die feit dat ek en enige insette deur my om die besigheid op ‘n gesonde grondslag te bestuur, totaal ignoreer word. ‘n Tydperk van 3,5jr se absolute frustrasie, onmag, diep beproewing en ‘n tydperk waarin ek uiteindelik, as n laaste uitweg, my Skepper sou vind. Ek het alles in my vermoeë probeer om uit die situasie te kom, en selfs hulp gehad van ‘n Hindu ‘heilige’ Yogi, ek het astroloeë geraadpleeg, ek het regshulp gesoek en in ‘n stadium in uiterste desperaatheid oorweeg om ‘n vloek oor my vennoot en sy uitgebreide familie uit te spreek, alles tevergeefs. Dit was in hierdie stadium wat ek, as laaste uitweg, besluit het om myself tot God te wend. Probleem was net, hoe soek jy na God as jy Hom nie eers erken het as jou skepper nie? Vandaar dan eers my soeke in die verkeerde rigtings. Na ‘n proses van intense soeke en selfonderrig, was ek totaal oorbluf toe God my, na ‘n baie desperate uitroep na Hom, antwoord uit die Bybel. Net daar het ek die bewusmaking ervaar dat God werklik bestaan. Hierdie uitroepe na Hom het met tydsverloop meer en meer geword en telkemale was daar ‘n bemoedigende antwoord vir my. Ek moet erken dat ek nogal baie spesiaal gevoel het oor die feit dat Hy deur Sy Woord met my as individu kommunikeer, maar sou later uitvind dat dit glad nie so uniek is nie. Na verloop van tyd was daar toe ook uitkoms vir my in ooreenstemming met die boodskappe soos verkry uit die Bybel. Wat die bose ‘aanvalle’ en drome betref, dit het ook verdwyn. Vir n meer volledige getuienis, besoek gerus my persoonlike blad op Facebook https://www.facebook.com/riaanbouwer2

Comments

Riaan Bouwer